Ek is byna seker dit is die bynaam vir hierdie blog - nie baie "rapids" nie, maar dit bly darem vloei.
Ons is byna deur ons eerste winter in Delmas - ek is seker hulle kon die plek net sowel Yskas gedoop het. Van plekname gepraat, Dries ek wonder of daar ooit op aarde 'n plek kan wees wat 'n mens jou plekkie noem. Ek vermoed die enigste is maar daardie plek waar jy grootword en waar jou kaalvoetspore orals in die sand onder die kameeldoringbome lê. Maar nou ja, ek was so lanklaas in daardie geweste dat ek sekerlik ook nie meer van my plek kan praat nie.
Miskien is die beste maar ... jou huis (plek) is waar jou hart is. Ek dink ons moet elkeen maar die beste maak van die plek waar jy op die oomblik is, en as die Here jou na 'n ander plek (land) toe neem, dan word dit maar weer jou plekkie (Paulus praat natuurlik van jou pos, Ef.6). Makliker gesê as gedaan, want die ander verbintenisse is nie so maklik om te verbreek nie. Oumas, oupas, broers susters ens. los jy nie sommer nie.
Ek glo en vertrou die wiel draai ... stadig maar seker. En wat nou na ondraaglikheid lyk, verander oor 'n paar jaar weer in die draaglike. Hoe weet ons nie altyd nie, maar dat EEN verseker weet, daaraan moet ons bly glo en vertrou.
Ek bid dat elkeen wat dalk worstel (soos ek ook maar) die regte antwoorde sal kry. My oudste het sopas aan die etenstafel die beeld gebruik dat 'n mens nie 'n besemstok op jou hand kan balanseer as jy na jou hand kyk nie ... jy moet opkyk (na Bo kyk) - dan is dit baie maklik.
Groetnis vir eers ek moet hardloop!!
Ockert se pa
'n Kletsplek, 'n geselshoekie, 'n lekker gesellige kuierplek ... ons eie plekkie om kontak te hou en mekaar weer beter te leer ken. Kom lug 'n opinie, kom wees nuuskierig of kom loer sommer net in ... Nuwe lede is welkom, solank jy deel van ons klas was op een of ander stadium van jou hoërskool loopbaan. Kontak enige van ons per e-mail (sien profiles onderaan) ons hoor graag van julle!
Monday, August 11, 2008
Subscribe to:
Posts (Atom)