'n Kletsplek, 'n geselshoekie, 'n lekker gesellige kuierplek ... ons eie plekkie om kontak te hou en mekaar weer beter te leer ken. Kom lug 'n opinie, kom wees nuuskierig of kom loer sommer net in ... Nuwe lede is welkom, solank jy deel van ons klas was op een of ander stadium van jou hoërskool loopbaan. Kontak enige van ons per e-mail (sien profiles onderaan) ons hoor graag van julle!
Thursday, December 11, 2008
Nog 'n gebed ...
Mag die Vors van Vrede, die Man van Raad, die Koning van Sterkte, die God van Mag, die Vader wat Ewig is (Jes. 9), vir julle 'n werlklikheid wees en mag julle as families en gesinne LEEF IN DIE HOOP, wat Hy gee.
Groete en mag die jaar wat voorlê - net so ryklik gesend wees.
Ockie, Sanette, Ockert, Duter en Jhonder
Wednesday, December 10, 2008
Ek het gedink dat ek gou hier sal inpop om vir almal te sê: 'n Baie Geseënde Kersfees vir elkeen van julle en julle gesinne. Mag julle die werklikheid van God se liefde erveer hierdie Kersgety.
So die 3 van julle wat darem so af en toe hier inpop, dis einlik met julle wat ek praat. ;-)
Ek hoop om Kersfees iewers langs die wit strande en turkoois blou water van Mosambiek deur te bring in die een of ander hittegloed waarskynlik, maar ek glo dit sal nogtans geseënd wees. Julle moet 'n heerlike rustyd hê vir die wat bietjie gaan rus en vir die wat nie so gelukkig is nie, mag julle nogtans 'n rustige feestyd hê.
Liefde
Thursday, December 4, 2008
Lekker rus
Vir oulaas net 'n gedagte. Julle moet almal lekker rus, veilig reis en in eenstuk terugkom vir die nuwe jaar.
Groete
Sunday, November 30, 2008
'n Vinnige hallo!
Maar soos Jacques tereg noem ... daar is reeds in 1833 voorspel dat die mensdom nie meer die heftige pas veel langer sal kan volhou nie ... en dit blyk die tyd het ons toe weldra ingehaal. Tot Die Uwe wat gewoonlik 'n eier oor alles te le het, kry nie meer kans om haar bek te rek nie!
Soos die jaar dan ten einde snel en meeste van julle begin lugkastele bou oor rustyd, vakansietyd, familietyd en sommer net leegletyd, sal ek my woelinge teen konstante pas moet volhou. Ja, wyl julle ouens vakansie hou, sorg ons ouens in die toerisme industrie dat julle kan lekker vakansie hou :-)
En ... net ingeval die tyd my weer inhaal voor my volgende gesels ... 'n voorspoedige Feesseisoen vir almal ... mag ons elke dag die ware betekenis van die Christusfees leef en onthou.
Veilig reis & lekker kuier ouens!
Sunday, November 9, 2008
Die groot stilte
Ek sien die groot stilte is op ons, en ons is almal deel daarvan. Ek kom nou die dag op hierdie af.
"The world is to too big for us, to much is going on, to many crimes, to much violence and excitement. Try as you will, you get behind in the race, in spite of yourself. It is an incessant strain to keep pace…. And still you lose ground.
Science empties its discoveries on you so fast that you stagger beneath them in hopeless bewilderment. The political world is news seen so rapidly, you are out of breath trying to keep pace with who’s in and who’s out. Everything is high pressure.
Human nature can’t endure much more."
Klink bekend? Gewonder hoe jy volgende jaar se nog groter druk en vinniger pas gaan hanteer, as die jaar klaar so mal was (vandaar die stilte?). Wel......die quote is geskryf in 1833!!!!
Sterkte vir die res van die jaar.
Thursday, October 16, 2008
Ek hoop dit gaan goed met elkeen wat hierdie blog so getrou lees, maar nooit 'n woord rep nie. Ja, natuurlik is almal baie besig, maar ek het nooit gedink dit sal ooit so erg raak nie.
Of is julle al besig op 'n ander blog sonder om vir sommige van ons daarvan te sê??
Groete
o
Friday, September 19, 2008
Dinge wat saak maak ...
Op Carte Blanch Sondag aand gesels Bongani met Ntabiseng ... 'n briljante student maar 'n vigs wesie van skaars 10 jaar oud wat na haar jonger suster ook moet omsien. Toe Bongani vir haar vra "wat kan ons doen om jou te help, wat het jy nodig", se sy in haar oumens-wysheid van te veel gesien, te veel ervaar maar steeds met die drome van 'n kind in haar oe ... "Iemand om na ons om te sien ... iemand om ons lief te he." En ek dink by myself ... Ja, Anne-Mare, waaroor het jy nou weer vanoggend geraas ... oor iemand wat te veel omgee? En ek laat sak my kop in skaamte.
Hiervandaan loop ek met daardie Ntabiseng-meisiekind in my hart en ek is dankbaar, vir elke teregwysing, vir elke raas en baklei, vir alles wat ek as vanselfsprekend aanneem, vir die klein dingetjies wat gedoen word sonder dat ek dit raaksien, vir die onvoorwaardelike liefde van my gesin, my familie en my vriende.
Bewaar my Here, om nie net 'n lee blik te wees nie ...
Monday, August 11, 2008
Stille rivierstroom ...
Ons is byna deur ons eerste winter in Delmas - ek is seker hulle kon die plek net sowel Yskas gedoop het. Van plekname gepraat, Dries ek wonder of daar ooit op aarde 'n plek kan wees wat 'n mens jou plekkie noem. Ek vermoed die enigste is maar daardie plek waar jy grootword en waar jou kaalvoetspore orals in die sand onder die kameeldoringbome lê. Maar nou ja, ek was so lanklaas in daardie geweste dat ek sekerlik ook nie meer van my plek kan praat nie.
Miskien is die beste maar ... jou huis (plek) is waar jou hart is. Ek dink ons moet elkeen maar die beste maak van die plek waar jy op die oomblik is, en as die Here jou na 'n ander plek (land) toe neem, dan word dit maar weer jou plekkie (Paulus praat natuurlik van jou pos, Ef.6). Makliker gesê as gedaan, want die ander verbintenisse is nie so maklik om te verbreek nie. Oumas, oupas, broers susters ens. los jy nie sommer nie.
Ek glo en vertrou die wiel draai ... stadig maar seker. En wat nou na ondraaglikheid lyk, verander oor 'n paar jaar weer in die draaglike. Hoe weet ons nie altyd nie, maar dat EEN verseker weet, daaraan moet ons bly glo en vertrou.
Ek bid dat elkeen wat dalk worstel (soos ek ook maar) die regte antwoorde sal kry. My oudste het sopas aan die etenstafel die beeld gebruik dat 'n mens nie 'n besemstok op jou hand kan balanseer as jy na jou hand kyk nie ... jy moet opkyk (na Bo kyk) - dan is dit baie maklik.
Groetnis vir eers ek moet hardloop!!
Ockert se pa
Sunday, July 27, 2008
HALLO ALMAL
Wednesday, July 23, 2008
My sikspens ...
Ja ja, ek weet julle dink almal ek gesels ligtelik en sonder erns, maar ek is darem nie heeltemal "tubeless" nie ... so ek deel ook graag my opinie en kwotasie met julle in die verband ...
"Tomorrow belongs to people who prepare for it today."
Ek dank God dat ek die geleentheid het om voor te berei vir die dag van more ... om my "koskassies" vol te pak en te weet dat ek genoeg "voorraad" het om te oorleef en dat daar nog baie is waar daai vandaan kom. En ek doen dit met hart en siel (en verkieslik ook op my kniee).
Is daar lewe voor die dood? Ockie, ek het 'n idee ons het jou hier effens misverstaan, want ek dink jy het na die onaktiewe blog verwys. En kyk net watse reaksie jou vraag ontlok het ... Ja, dit lyk my daar's beslis lewe ... en die afsterwe van hierdie blog is ver op die agtergrond!
Bly of Gly? Dries ... dis 'n taai ene want ek dink nie enige iemand gee sy Vaderland maklik prys nie. Ek sal by Jacques aansluit en op my eie manier se "doen wat jou hart vir jou se" ... tomorrow belongs to people who prepare for it today!
Nou ja vriende, tot wederom en mag die voorspoed julle verveel!
Tuesday, July 22, 2008
Antwoorde
Lyk my ons het sulke lang stiltes en dan skielik reageer almal. Miskien is ons almal professionele denkers - dink baie, praat min, maar as ons die slag praat kan jy maar luister! Dit sluit natuurlik vir Herman uit, hy doen en dan vra hy omverskoning.
Dries persoonlik dink ek mens kan enigiets in die lewe swaai en regverdig soos wat jy wil. Ek kan vir jou 10 redes gee hoekom jy moet bly en ook 10 redes gee vir hoekom jy moet gaan. So kan mens enige onderwerp vat en benader soos jy wil - deur jou denk prosesse en filters wat jy wil gebruik. Wat jy ookal besluit moet jy absoluut oortuig van wees en nie oor 'n jaar se "ek moes eerder" nie.
Karen oor die lewe, wel kom ek deel twee baie goeie aanhalings wat ek die laaste paar dae gehoor het.
"Happiness is when what you think, what you say, and what you do are in harmony"
"We must learn to enjoy the journey we are on, don't just live for the next day, everyday has something great to offer"
Goed, voor ek te diep raak; julle moet 'n heerlike dag, week, maand, jaar, dekade, lewe he, tot ons weer praat!
Kathu Sep 07 2 Huise + nuwe uitbreiding oppad myn toe en nuwe water toring



Lewe ...
Ek dink nou al van gister af aan Ockie se vraag: Is daar lewe voor die dood? (Die een oor na die dood is nou ewe skielik maklik om te antwoord). Ek luister onlangs na 'n gesprek op radio en die persoon sê: I am trying very hard to find the balance between living in this world, but not be of this world. So ek dink nie die antwoord op hierdie vraag kan wêrelds wees nie.
Dawid sê in Psalm 6: "Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam bely nie. Kan iemand in die doderyk U prys?" 70 000 mense of Loftus! Daar moet lewe wees.
Friday, July 18, 2008
Emigreer
Wednesday, July 16, 2008
Hoezit!!
Ek het lanklaas die blog gelees en dit lyk vir my julle was redelik bedrywig, alhoewel daar nou ietwat van 'n droogte blyk te wees. Ek en Karen het nou weer "ge-upgrade" en ons Skype nou mekaar. Is dit nou vir jou pret, veral as jy 'n webkamera het dan kan jy mekaar nog sien ook.
So ek daag al die lidde uit wat wil sien hoe almal lyk om dit te probeer dan kan ons sommer in "real time" met mekaar chat. Kom Jorrie ek weet jy sal val vir die een. Die feit dat jy sommer met mekaar praat en nog die ander persoon sien ook maak mens maar vrek lui om te tik, dit blyk my dan die oplossinng vir Anne-Marie te wees as sy so moeg is om e-posse te stuur.
Reg nou moet ek eers weer werk, genoeg geklets met julle.
Cheers Herman
Thursday, June 26, 2008
... lewe ...
Wat het geword van al die ander matrieks? Ek besef ons ken mekaar nie regtig meer nie, maar ek is seker old memories kan nie so sleg wees nie. Dit is nou behalwe as daar gooed is waarvan ek (naïef) niks weet nie.
Ek sou graag wil weet waar bly almal, wat doen hulle vir 'n lewe, hoe lyk die kinders en gades, maar lyk my nadat ek die foto of twee gepubliseer het, het almal geskrik.
Die aap foto daar in die begin was nie regtig ek nie ... wou dit net van my hart af kry voordat iemand my assosieer met die gestalte. Ek doen wel soms aap-dinge, maar dit klassifiseer my nie as 'n aap nie. (nog nie). Eintlik is ek besig om voor te berei vir Sondag, so hierdie gesprek is een van my aap-dinge want ek breek my eie konsentrasie.
Herman, ek is nou uiteindelik in Delmas. As jy hier naby is, kom drink 'n koffietjie (Pretorius straat 3, 083 653 1989).
Dit geld vir enige ander matriek b(l)ogger. My eposadres is ostruwig@telkomsa.net .
Ek is seker ons het nog baie in gemeen. Ons is immers "broers en susters" in Christus. Al praat ons net van Sy genade het ons 'n paar jaar se praat oor.
Groete uit ysland (- nog steeds)
Oci & ci
Monday, June 23, 2008
Tuesday, June 10, 2008
Aijajai!
Goed, goed, ek is bereid om weer die rol van Christopher Columbus te speel (wanneer die tyd my toelaat) en die google ding te ondersoek. Maar ja, teen die trant wat ek e-posse ontvang en stuur is ek redelik naar vir daardie medium ... en die blog voel tog vir my 'n bietjie meer inter-aktief as e-pos ... meen te se ... ek wag nou nog dat sekere mense moet respond op my uitnodiging na verlede jaar se reunie toe! En dis nogal lekker om so nou en dan in die "argief" te gaan grawe en te kyk wat die ouens vroeer hierdie jaar oor gesels het ... en of hulle by hulle beloftes / voornemens hou :-)
Nou ja, groete vir eers almal ... laat dit reen waar julle bokke wei!
Monday, June 9, 2008
... om te verstaan of mis te verstaan...
Vandag wens ek eerder ek was terug in die Laeveld. Vier stelle klere bo-oor mekaar is nie 'n grap nie. Ek wou vanmiddag iemand in die straat groet, maar kon nie my arm hoog genoeg optel om 'n handgebaar te maak nie. Die mense dink seker ek is "upstairs".
Van hoogmoedig gepraat, ek was nie van mening dat iemand meer of minder tyd het nie, ek wou maar net nie jou inisiatief oorneem nie, Anne-Marie.
Jy het reeds 'n volledige e-poslys as ek reg onthou van voor die reunie. Al wat jy moet doen is om 'n "google" rekening oop te maak, 'n "group" te skep en dan die hele boksemdais uit te nooi om deel van die groep te word. Dit sal wys wie is lewend en wie is dooierig. Die dooies neem dan net nie deel aan die gesprek nie - nie dat hulle dit in elk geval doen nie, ek weet nie eers of hulle die blog lees nie, om die waarheid te sê.
Die kommunikasie word 'n epos aan die groep, almal kry dit enige-een kan reageer en op so manier kry ons hierdie geselshoekie aan die gang sonder om elke keer te kom inlog op die blog (verskoon my Afrikaans Mnr. Joubert).
Ek het dit Saterdag aand vinnig gedoen vir ons gemeente en dit het my 20 minute geneem.
Ja, nou raak ek vaak van my eie gesels.
Groetnis uit ysland
Ockie
versigtig....
Thursday, June 5, 2008
Inderdaad ...
O, en ek wil net sê: Ek lyk beter met 'n kop.
Ek wag vir Ockie om sy foto te ruil dan sal ek myne Photoshop en insit.
Wednesday, June 4, 2008
Om te wip of nie te wip nie ...
Kyk, ek het nou al van spekskiet gehoor, maar Jacques, van gooi met die hele vark en die hoender ruk tot so 'n ernstige graad het ek lanklaas teegekom! Jy en Karen BESADIG? Nee hoor, dit het my meer geskok as Morne se openbaring oor sy seksuele voorkeure :-) Met permissie gese, Morne my skat!
Ockie, ek sal kyk hoe ek hierdie google-bedryf wat jy voorgestel het kan ondersoek ... my kommer is net dat ek dalk gaan opeindig met soveel e-posse dat ek nooit by werk gaan uitkom nie :-) Jacques, ek hou van jou idee van Facebook ook ... het self aan daardie opsie gedink. Sal beide opsies ondersoek en op 'n latere geleentheid terugkom na julle almal toe.
O ja, Ockie ... ek wonder nou net wat jou laat dink dat EK die tyd het om hierdie tipe goed te administreer? Net omdat ek baie praat beteken dit nie ek het niks om te doen nie :-)
Nou ja, groete van huis tot huis en mag die voorspoed julle verveel ...
Tuesday, June 3, 2008
Kom ons Raai Wie
So dit is amper so goed soos om met 'n vreemdeling te praat hier, behalwe dat ek die naam ken natuurlik. En miskien is dit die rede waarom die interaksie stadig is, ons is nie almal so voor op die wa soos Anne-Marie om met elke tweede vreemdeling in die straat 'n gesprek aan te knoop nie, of soos Dooms wat MOET praat met vreemdelinge want dit word van hom verwag. Eintlik is julle twee bevoorreg, besef julle dit.
Ek en Karen is die stil teruggetrokke tipe wat nie maklik met vreemdelinge praat nie, en jy ook Dries - ne? Maar in elk geval, om terug te kom na die foto ding. Miskien moet jy al die fotos sonder koppe wys en dan kan ons raai wie is wie, wat dink jy Anne-Marie?
Nou ja, ek het nou eers genoeg gestir - alles natuurlik tong in die kies gese - so moet tog asb nie julle kuite wip nie!
Groete
Monday, June 2, 2008
Netintergestremd!
Miskien is dit die probleem...
Maar ons hoef nie probleemkinders te bly nie. Ons kan mos "uit die boks" dink soos die ou spreekwoord lui. Miskien moet ons net "uit die blog" ook dink.
Anne-Marie ondersoek bietjie die moontlikheid om 'n googlegroup te skep.
Dit beteken as jy 'n epos stuur, kry almal dit en as jy reageer kry almal dit. Dit is m.a.w. 'n groep wat bestaan uit al die "gewillige" deelnemers wat intyds e-posse ontvang en nie eers elke keer moet aanlog om die blog te view nie. Mooi man nou praat en lekker Engrikaans.
Ek het ongelukkig nie die tyd om so ding te administreer nie, alhoewel ek dit by ons vorige gemeente met groot vrug gebruik het as kommunikasiemiddel.
Ek hoop nie ek belas jou nou met onbenullighede nie, maar dalk gaan die reaksie hiermee verbeter.
Groete via die net
Ockie
Sunday, June 1, 2008
Tandetrek ...
Welkom terug Ockie! Lyk my dis alweer net ons twee wat gesels ... en jy's nog half getrek ook :-) Gits, besef ek nou net dat ek nogal met daardie statement 'n revolusie kan begin ... maar ag wat, lyk my hoeka die blog het sy fut verloor en die geselskap is te boring vir enige iemand om 'n opinie te lug ... en as die "sensasie" van 'n getrekte dominee nou die "kykergetalle" kan opstoot, dan kan ons seker maar voortbou op hierdie wanopvatting (met permissie gese).
Hmmm ... nou sit en wonder ek so by my sigselwers oor die foto storie wat jy genoem het ... kyk, ek het ongelukkig die helfte van die reunie paartie gemis as gevolg van 'n vreeslike afhanklike en neulerige mansmens aan my sy, maar fotos het ek darem beslis. Nou wonder ek oor 'n ander manier om die "kykergetalle" te boost ... om daardie fotos nou publiek te maak ...
Ek onthou 'n wyle terug het jy (Ockie) genoem dat ek miskien moet dreig of baklei ... nou sien, ek is mos maar 'n vredeliewende wese en baklei nie sommer nie ... maar dreig ... die ouens wat weet, se ek is nogal 'n meester op die gebied.
So ... hiermee dan 'n formele notifikasie ... as julle nie gesels nie, begin ek wragtag reunie fotos publiseer :-)
Wednesday, May 14, 2008
Getrek ...
Getrek soos in alles wat jy nie meer wil hê nie weggooi, die paar goedjies wat oorbly inpak en die res in die bakkie laai, soos die honde en die kokketiel wat nie nie in die lorrie sal oorleef nie. Dis wat ons onlangs moes doen. Ek is seker die woordjie trek moes baaaaie langer gewees het as die vier letterjies waaruit dit bestaan. Eintlik is trek 'n verskriklikke verontrustende ongemaklike langdurige pyn. Ek het nou nog nie al die fotos weer teen die mure opgehang nie en die gordyne is of te lank of te kort.
Maar nou ja, as ons nie getrek het nie, sou ons nog in Hoedspruit gebly het en nie in Delmas nie.
Hoedspruit is vêr, Delmas is nader. Hoedspruit is warm, Delmas is koud. Hoedspruit se telkom is vinnig, Delmas se telkom is staaaadig! Maar nou ja, ons is terug op die lyn . Die epos is steeds ostruwig@telkomsa.net
Ek blog maar stadig, want ek bly maar besig.
Groentis vir eers.
Ockie
Geloof, Hoop Liefde ...
Bynaam? nee, behalwe "Spikkels" in die laerskool. Dit het julle gelukkig nie geweet nie!!
Nuwe gedagte ...
Kyk hoe lyk ons nou ... Wat van so bietjie fotoruil??
Sunday, April 20, 2008
Kai ...
Ek was so opgewonde oor daardie lekker nuwe woord van Dewald dat ek amper heeltemal vergeet het om hom welkom te heet :-) Ek's bly jy is uiteindelik hier my vriend! Nou kan jy ons ander tegnologies gestremdes presies vertel wat 'n vonkposadres is ... asseblief ...
Tuesday, April 15, 2008
My bynaam ...
Monday, April 14, 2008
Byname
Sunday, April 13, 2008
Dewald Venter
Sedert ek verlede jaar van die Blog gehoor het wou ek ook graag met die "tegnologie" werk, maar die rekenaar was seker nog nie goed genoeg ge-upgrade nie, wel dit het onlangs reggekom en danksy Anne-Mare se boodskap die afgelope naweek is ek nou ook op die "lug'. Dankie Anne-Mare.
Bly om te sien die Blogger werk beter as die ou telefoon. Dis die meeste kommunikasie tussen ons skoolvriende wat ek sedert skooljare gesien of ontvang het. Dis asof ons totaal uitmekaar gespat het na skool. Seker maar omdat ons die laaste generasie van die Baby Boomers is - almal wou hul merk in die lewe maak.
Nadat ek al die ou boodskappe gelees het, kan ek seker ook maar vertel?
Was na 87-matriek - wou van skool af staandemag by die weermag aansluit en dan Militêre Akademie toe gaan - gedink dit sal opwindend wees en ek kon alle sport soorte "sport" doen wat ek graag wou (valskerm, motorbote, seiljag, abseil, ens.) Maar het nie vrystelling gehad nie, dus geen alternatief gehad as terug skool toe nie. Dit was bad al jou vriende weg, jy is in 'n klas wat nie tick nie, niks maak sin nie. Toe hou ek my hoofsaaklik besig met buitemuurse aktiwiteite, "koor" (het jy my al gehoor sing?). Asof dit nie genoeg was nie word ek gevra of ek nie aan die Revue wil deelneem nie, toe doen ek dit ook sommer, en al die ander dinge. Skoolwerk was presies dieselfde, al verskil Biologie die jaar op HG. Merkwaardig genoeg het my eindpunt met 10% gestyg.
Na 88-matriek kon ek nou my lewensideaal verwesenlik - Staandemag. Tydens basies kom die sein deur - ons magte onttrek uit Angola en Namibië, 'n wonderlike vooruitsig vir my loopbaan.
Het toe besluit om Biokenetikus te word - wou sportmanne en -vroue help om beter te presteer. Gaan studeer toe Menslikebewegingskunde en Rekreasiekunde aan die PUK. Dit was 'n fees, maar finansies was 'n probleem. Het in my tweede jaar genadiglik werk gekry by die PUK Besekermingsdienste - militêre opleiding was voorvereiste. Het naweke en vakansies om gewerk - hoe meer ure, hoe meer geld. Tydens my Honneurs jaar het ek 'n Franchise (Playball) gekoop. Dit het goed gegaan en ek het bietjie geleer oor besigheid - gesien as jy 'n franchise koop maak die eienaar geld, nie jy nie. Verkoop dit toe, nadat ek myself gevestig het as gekwalifiseerde Avontuurinstrukteur. Het gereeld werk gehad as vryskut instrukteur.
Was ook steeds besig met studies, M-graad in Toerisme, maar ek en my dosent het koppe gestamp en ek het besef dat Grade nie inkomste verseker nie. (Baaaieee skoolgeld betaal), maar binne in my het dit gebrand om (vir myself) my studies te voltooi. Intussen ook getroud met Sandra Grey. Sy is 'n Voedseldiensbestuurder en het die Studenterestaurant en Koffiehuis van die PUK bestuur en ek moes gereeld ook daar sekuriteitswerk doen. (Ons eerste ontmoeting was 'n fight.)
Het toe ons eie Avontuur- en Toerisme-onderneming begin. Het 'n Kerkterrein by die NG Kerk van Potch gehuur - op die Vaalrivier, in die Vredefortkoepel - 'n prime spot. Dit het goed gewerk.
Ons het uiteindelik, na 'n huwelik van 8 jaar 'n seuntjie ryker geword. Ons besigheid was suksesvol en ons het 'n seuntjie - wat meer wil mens hê? Op agt maande raak ons seuntjie siek, die kerk dreig om die terrein terug te vat, want "ons weet wat die plek werd is en wat dit nog werd gaan word" - dis wat hulle ons meegedeel het nadat die gebied as wêrelderfenis gebied verklaar is.
Ons het 4 maande gekry om 'n ander heenkome te vind. Op 1jaar en 14 dae is ons seuntjie oorlede, Sandra was intussen 5 maande swanger met ons dogtertjie. Die Here was ons weereens genadig en ek het 'n pos by die Tshwane University of Technology (die ou Pretoria Technikon) gekry.
Ek is tans 'n dosent in die Departement Toerismebestuur en doseer Outdoor Recreation & Sport Tourism. Het ook nou die geleentheid om gratis verder te studeer en nog navorsing ook te doen. Het weereens die Here se genade ontvang op 'n onverwagse tyd - Alle eer aan Hom. Vandag leef ek elke dag, soos Ockie ook ervaar het, van Sy genade. Dan besef mens net so ietsie van wat Paulus moes deurmaak en watter groot Genade hy van God ontvang het.
Ja, die Blog werk sommer as terpie ook, maar ek verseker julle, ek sal nie weer so klomp vervelige goed skryf nie.
Lekker week vir julle almal en bly om van julle te hoor.
Dries stuur asb vir my jou vonkposadres?
Dewald
Saturday, April 12, 2008
Haai hoe lekker lag ek nou!
Beetkop, Jacques? Haai foei tog :-)
Dit behoort nou 'n lekker gedoente af te gee as ons 'n bietjie die ou byname kan oprakel ... so, kom speel saam mede bloggers ... ons kyk of ons 'n giggel-rippeleffek kan veroorsaak met wat alles hier gaan uitkom.
Ek moet dan nou tog maar om hulp vra in hierdie kategorie ... my gedagtes het my verlaat en ek kan sweerlik nie onthou wat my bynaam was nie ... is daar iemand is wat kan uithelp sal dit baie gaaf wees. Gits ... stel ek myself darem nou vreeslik bloot hierso :-)
Tuesday, April 8, 2008
Lekker....
Die wat 'n kopie wil he kan vir my hulle pos adresse mail, dan sal ek een aanstuur via die poskantoor. Moet net nie te veel spoed verwag met die aflewering nie! jacquesj@mailbox.co.za
Dries, so gepraat van byname. Miskien moet ons ons mede bloggers vra of hulle kan onthou waar al die byname hulle oorsprong gekry het. As ek reg onthou het jy joune gekry omdat jy jou eerste dag by die skool begin het met 'n blou oog?
Dan was daar "padda", "pyp", "tubby", "gans", ...... kom laat julle bietjie help. Ek weet my standard ses doopnaam was beetkop, gelukkig het dit my nie gevolg nie!
Sunday, April 6, 2008
Roker DVD
Ek is tans op Ellisras (Lephalale) en hou my met konsultasie en eiendom ontwikkeling besig. Gelukkig het ek my bynaam Eier afgeskud.
Tuesday, March 25, 2008
Gits ja ...
As ek nou nie van beter geweet het nie, kon ek sweer dat jy in egte Steve-se-Spoegblok-styl hierdie nuus breek. Toegegee, jy doen dit darem in heelwat meer styl en minder gekruide taal :-)
Die van julle wat nou Morne se post oorleef het, kan nou verder gesels okay!
Monday, March 24, 2008
deel gerus
Wel na Anna se geneul en my moed, het ek toe woord by daat gesit en julle gejoin. Ek het gou al die vorige boodskappe gelees en herder, van die goed kan ek nie eens onthou nie, maar nou ja.....
Net vinnege agtergrond aangesein ek 99% van julle nog weer gesien het nie; aangesien my goeie doel om die 20jr te maak deur die mat geval het. Verbeel jou, vlieg op Jhg toe, huur n motor, ry eers Thabazimbi toe om vir my sus te gaan kuier en word daar so siek soos n hond en so mis ek al die pret, maar glo my, oor 5jaar gaan julle nie weer so gelukkig daarvan af kom nie. So hier kom dit, hopelik verveel ek julle nie!
Was soos al die manne in die weermag, waar ek in totaliteit besef het dat ek inderdaad Homo is! Shit, reken dat ek dit vir my ma-hulle moes vertel en ook te besef dat dit nie net n fase is nie! En julle mag maar lag, soos ek vandag doen , maar glo my, dit was nie toe n grap nie. So vir die wat aanstoot neem, kom aan, kry n lewe! Ek is gelukkig in myself, die belangrikste!
Het in 1990 by ABSA begin werk,; dit het net 18 maande gehou, ek sou mal raak met al daai admin em my kreatiwiteit het daar onder gelei. Het "92 begin Hare swot, drie jaar later my papiere met lof gekry. Hou julle kop hier kom nuus; in 92 het ek begin leer vir n pastoor by Rhema Bybelskool, maar soos julle kan dink is dit n storie op sy eie!!
Die volgende paar jaar in Klerksdorp vir n salon gewerk. Einde 97 my eie plek begin en Feb2001 my salon verkoop; na my eerste mislukte verhouding, ons was twee jaar saam, het ek weskus toe getrek; Vredenburg. Jacgues/Jorrie (soos ek sien) jy sal julle ou huis nie herken nie.) Was daar tot Maart 2004 en toe die tog oorsee aangepak. In London geeindig, besluit om Cruise Liners my nuwe tuiste te maak en op die legendariese Queen Elizabeth2 my talente uit te oefen. Wat n ongelooflike ervaring om op die mees beroemste en luukse skip van haar tyd te werk. Ek het die voorreg om om die wereld te vaar, my voete aan meer as 40 lande aan wal te sit; n droom bewaarheid. Ja ouens, die half ongewilde skoolmaat het se ding gedoen!
Terug in SA het ek toe n salon in Somerset wes oopgemaak in is nog steeds hier, baie gelukkig en single!Is al amper n jaar single, my ex, n internis en pethadine verslaafde, is nog in rehab. (en julle dink julle het pret beleef!) So as julle n goeie gay pel het om voor testel, moenie dat ek julle keer nie!GRAPPIE!
So vir die wat nie te geskok is nie en wil kontak maak, doen gerus...
Ek en Anna sal maar die Kaap aan die gang hou!
Mooi bly, n geseende Paasfees( ja ek weet ek is laat)
Groete Morne
Friday, March 14, 2008
Nee hoor!
Nadat ek nou hierdie video grepies beloer het is ek nogal erg bekommerd ... dit wil my voorkom of daar so 'n effense lugleegte in my opvoeding was. Wanneer het hierdie opvoerings gebeur? Hmmm ... Dit kan nou natuurlik te wyte wees aan my assosiasies daardie tyd en die feit dat my groep op heel ander dinge gefokus was .... Hier sit ek vandag tande en slyp vir elke opvoering en teaterstuk wat verbykom en ek verstaan nou hoekom ... dis al die jare van onthouding wat my nou in 'n addict verander het.
Nou ja, ek weet nou dat daar wel lewe op hierdie planeet is (ons blog getuig daarvan) ... so gaan in vrede aardbewoners .... en moenie jaloers wees omdat die stemme net met my praat nie :-)
Wednesday, March 12, 2008
Die rokers
Die kwaliteit is nie baie goed nie want dit is nog met baie ou tegnologie afgeneem en toe oorgesit van 'n VHS band na DVD en van daar na hierdie weergawe. Maar julle sal kan sien en hoor!
Geniet
Rokers 1 - Ockie, Jacques, Petrus (2.8meg, 16sek)
Rokers 2- Herman, Ockie, Jacques (2.5meg 14sek)
Rokers 3 - Emsia, Adri, Jacques, Petrus (2meg, 11 sek)
Rokers 4 - Petrus, Adri, Emsia, Jacques, Dries (2.8meg, 16sek)
Rokers 5 - Adri, Petrus (1.7meg, 10sek)
Intelligent???
Cheers julle! The Only Intelligent Life Out There!!!
Ek wonder
En toe ek nou die dag daai Rokers dvd kyk toe sien ek maar ek het ook so stadig gepraat. Wys net vir jou wat 'n plek aan jou kan doen. Of dit nou Kathu is waar daar baie tyd is en min dinge wat gebeur - so jy kan bekostig om stadig te praat. En of dit nou Gauteng se rat race is waar jy alles teen dubbelspoed moet doen en se om deur die dag te kan kom.
Herman ek weet nie wat dit is wat jy gehad het op skool nie (en come to think of it, nog steeds) maar toe jy op daai verhoog stap het die hele saal uirgebars vsan die lag voor jy nog 'n woord gese het. En dit kon nie wees oor jou kort broek nie want my en Ockie sin was net so kort.
As ek net iewers die tyd kan kry sal ek daai dvd laat oorsit op iets wat klien genoeg is om hier te wys en dan kan die hele wereld ook lag vir Herman, en natuurlik oo en aa oor ons ander bekwame akteurs in die storie.
Monday, March 10, 2008
White Hole
My gunsteling Grafiti op skool was hierdie een wat gevra het: "Is there intelligent life on earth?" met 'n antwoord onder wat sê: "I don't know. I'm just visiting." Ek voel die afgelope week of wat of ek my kan vereenselwig met daai een. Of miskien dalk: "Stop the world. I want to get off."
Ek onthou daai tik juffrou. Sy het so 'n klokkie gehad wat sy gelui het en dan het sy gesê: Meisssiesss. Vriessss. Met haar S soos die een in die All Gold advertensie. Ek het altyd gewonder wanneer gaan haar valstande uitval.
En ou Tubby. Ek het hom nogal gelaaik (miskien oor hy my nooit pakslae gegee het nie). Hy het eendag vir my iets gesê en na ek hom geantwoord het, het hy vir my gesê: Ek het nog altyd gedink daar is iets fout met jou, nou het ek simpatie met jou ouers. Maar my Ma is darem nog lief vir my.
Monday, March 3, 2008
"Black Hole"
Dan is dit nou maar eers totsiens, praat weer later.
Tuesday, February 26, 2008
Wel, wel ...
Dankie, Karen, vir die ernstige aanspreek van vriend Harry ... as jy jou weer op een of ander stadium wip, laat weet my dan stuur ek vir jou nog name :-)
Monday, February 25, 2008
Jacques/ DVD
Hoezit!!
Monday, February 18, 2008
Die nostalgie goggatjie byt ....
Jy weet, ek kry nou nog 'n giggel as ek na ons matriekfoto kyk ... ek onthou nog die dag toe dit geneem is het Herman, Van Wyk, Jakkie Jonker (en ek dink jy ook) verwoed na brille gesoek om op te sit ... sodat almal in die ry dieselfde kon lyk. Ek het so gelag dat, behalwe daarvan dat ek amper onherkenbaar is, daai foto vandag nog 'n disgrace vir my Agent is :-)
Ek herinner my ook aan ons nuwe tikjuffrou se eerste dag ... kan nie die vrou se naam onthou nie ... wat ek wel onthou is dat sy kneehighs by sandale gedra het en 'n effense spraakprobleem gehad het. Ons staan toe met respekte vir haar en inwag en toe sy mooitjies haar sit kry op die lessenaar en haar knieknokkies wys waar haar kousies te kort geraak het ... sêg sy vir ons "klash ... shit" ... nou ja ... dit vat nooit baie om my aan die giggel te kry nie, maar daardie dag was daar 'n lelike ding ... 'n paar van ons kon eenvoudig net nie meer ons gesigte reguit hou nie, maak nie saak hoe hard ons probeer het nie. Onthou jy Karen?
Dan's daar die dag wat ou Tubby so lekker op sy stoel gery het, dat die pootjies toe mooi onder hom ingee en hy, nadat sy kop 'n kletter-hou teen die swartbord geklap het, vreeslik onellegant op die vloer te lande kom. Net om op te staan, sy broek af te stof en vir my en Elsabé te sê ... "Toe Theart en Harmse .... lag nou maar en kry klaar". Nou ja, soos reeds genoem, ek het nooit 'n formele uitnodiging nodig gehad om uit te rafel nie ...
Ja, dis goeie ou dae daardie
Thursday, January 31, 2008
Dit moet julle sien!
Ons was almal natuurlik heerlik maer, met kuiwe tot by ons neuse en die kort broeke se pype het net onder die boude gestop. Ek sal kyk of van my tegnologies bekwame vriende dalk vir my klein stukkies kan uithaal in 'n formaat wat ons hier kan post, dan kan julle ook saam lag.
Lek dag verder.
Thursday, January 24, 2008
Ja Swaer ...
Ockie, ek stem saam, maar ek dink ons moet byvoeg dat ons die kleintjie met 'n VURK probeer pap voer! My oupa Koos het op 'n stadium gedreig om sy jellie & custard met 'n vurk te eet omdat my ouma vergeet het om vir hom 'n lepel te dek ... nodeloos om te sê, dit was nie baie effektief nie. Met 'n tekort aan vermaak in my en Karen se liefdeslewens (met respek Jacques:-), sal ons dan nou 'n alternatief moet bedink om weer 'n bietjie klets uit te lok.
Nou ja, die lewe is darem ernstig genoeg, so kom ons speel 'n nuwe variëteit van "wie is jy en wat maak jy nou". Kom speel saam ... verkieslik met 'n tong in die kies en 'n giggel in jou hart:
- As jy 'n inkleurkryt was, watter kleur sou jy wees?
- Wat is jou gunsteling reuk?
- Scary flieks of gelukkige eindes?
- Drukkies of soentjies?
- As jy deel van die diereryk was, watter dier sou jy wees en hoekom?
- Vertel ons van een irriterende / swak gewoonte wat jy het ... (meeste van ons het DEFNITIEF nie meer as een nie :-)
As ek nou 'n voorstel kan maak ... kies "comment" vir jou antwoorde ... dan hou dit alles bymekaar op die onderwerp ... hehe ... praat van irriterende gewoontes :-)
Nou ja toe mede-bloggers, TRUTH or DARE?
Thursday, January 17, 2008
Blogging? Kletswerk?
Miskien moet jy begin tel ... of dreig ...
... of 'n prys op die spel plaas (die wêreld draai mos deesdae rondom "WIFM" oftewel, "whats in it for me").
Ek en Sanette woon in Hoedspruit nefens die KNP tussen Nelspruit en Tzaneen. Ons het drie knapies: Ockert (9), Duter (6) en Jhonder (3). Ek is predikant van die Gereformeerde Kerk Hoedspruit, die afgelope 3 jaar (Dit is ons eerste gemeente). Hier geniet ons elke dag die seëninge van ons Hemelse Vader.
Ons kamp graag in die omgewing, veral die Wiltuin trek ons gereeld (terloops, dit is waar die aapfoto van my geneem is).
Soos julle dalk weet is die Laeveld nie baie warm nie - dit is vrek warm. Ons drink water tot dit by ons ore uitloop. Vrydae-aande maak ek hardekoolvuur en sorg dat daar ten minste een yskoue bier in die yskas is.
Soos julle seker weet, werk die dominees net een dag in die week, die ander tye hou ek my sommer besig met ... bemiddeling, hartseer, huwelikke, huisbesoeke, preekmaak, raad gee, rondry, siekes, vergaderings, versoeningswerk ... maar glo my die genade is groot!
Jacques ek het noudie dag gedink, 'n mens moet seker nie te veel dink voor jy hier op die kletswerf iets neerpen nie, sommige mense dink heeltemal te veel en ander heeltemal te min. Sommige dink wat ander mense dink en dan dink hulle self aan niks of iets as jy nou verstaan wat ek dink. Soms kry jy ander wat dink oor wat jy dalk dink sonder dat jy daaraan gedink het en dan spat die vonke, want hoekom dink jy nie soos hulle gedink het jy dink nie. Eish... ek kry nogal baie hiermee te doen.
Ek dink ek moet nou eers klaar maak vir die week.
Groete, mag julle elkeen hierdie week emmers vol liefde en geduld en vrede en vriendelikheid van Bo ontvang en deel dit asseblief tog uit - Hy gee in oorvloed ... en daar is nog baie!
Ockie
Nog 'n vis
Huwelikstatus: Ongetroud. En dis al wat ek te sê het oor daai onderwerp!Kinders: Omtrent so 12. Maar ek het nie geboorte geskenk aan enige van hulle nie.
Huidig plek van habitasie: Ermelo. Sou dit nooit kon dink nie, maar my oupa is in Chrissiesmeer gebore (30km van hier af), so ek is eintlik terug by my roots.
Geld: Ek bou toilette (letterlik soms) vir die agtergeblewenis. Het jy al ooit iemand gesien wat happy is oor hy ‘n toilet het binne loopafstand van sy huis af? Of dat sy vir die eerste keer 'n 20 jaar 'n kraan in haar erf het?
Gunsteling drankie: Die gesofistikkerde ek hou van ‘n rooiwyntjie. My evil twin het ‘n ding vir margarita’s. En by die selgroep rooibostee
Gunsteling kos: Ja. Okay, as ek moet kies ‘n ou garnaaltjie op vlamme gebraai met ‘n goeie dosis peri-peri sous.
Hoof mikpunt vir die jaar: Soos reeds gesê: Psalm 119:37 – Weerhou my van ‘n nuttelose lewe…
Sunday, January 13, 2008
Wednesday, January 9, 2008
Eerste vis aan die hoek ...
Anyway ...
Huwelikstatus: Ongetroud, want die man wat my wil hê is mal en 'n mal man wil ek tog nie hê nie. Hoewel, Liefie werk darem baie hard om my andersins te oortuig en ek hou julle op hoogte van my status :-) Sien, nog 'n rede hoekom julle gereeld moet kom kuier!
Kinders: Dieselfde reël geld as hierbo
Huidig plek van habitasie: Kaapstad, maar ai! my hart bloei om terug te gaan Kalahari toe.
Geld: Ek het tot die besef gekom dat ek nooit Bill Gates of Richard Branson sal wees nie, en daarmee saam dus nie die elende van al die honger kinders kan verlig nie. In die praktyk is ek iemand wat heeldag ander se klagtes moet aanhoor en uitsorteer, maar in werklikheid vyl ek heeldag my naels en gesels op die internet.
Gunsteling drankie: Ek is maar 'n rooiwyn-vlieg, geniet 'n 1995 Beyerskloof Pinotage sonder om te blik of te bloos. Maar koffie is ook nogal lekker ... wel, eintlik Cuppucino ...
Gunsteling kos: As dit kaas in het is ek happy ...
Hoof mikpunt vir die jaar: Om te kan terugkyk en sê "Wow, kyk hoe vêr het ek gekom!"
Nou ja, genoeg van my ... kom ons kyk wat gorrel die ander en dan werk ek solank aan ons volgende speletjie.
Lyk my......
Ek wil dit net amptelik op rekord plaas dat my vorige post nie enigsins negatief bedoel is nie, maar slegs 'n poging was om ook iets te skryf. As ek dus iemand in die proses afgeskrik het om ook te skryf is ek baie jammer. Ek sal baie graag wil sien wat almal skryf en dit sal heerlik wees om mekaar weer beter te leer ken.
So kom ek forseer julle om te reageer - en laat een van julle wat se naam op die blog is nou nie reageer nie!!!! Ek sit vir Christopher op julle, julle het gesien sy vat geen nonsens toe sy die reunie gereel het nie.
Antwoord asb die volgende vrae vir ons almal se kennisname (of vermaak)
- Huwelik status
- Kinders (waarvan jy weet)
- Huidige plek van habitasie
- Hoe verdien jy jou geld, maw wat doen jy om die ekonomie te bevorder (nie job title)
- Gunsteling drankie
- Gunsteling kos
- Hoof mikpunt vir die jaar
Die een wat al 7 reg antwoord kan die volgende speletjie uitdink!
Tuesday, January 8, 2008
Wat om te se
Die waarheid van die saak is is dat dit vrek moelik is om met "iemand" op
n blog te gesels wat jynie regtig ken nie, alhoewel jy 20 jaar terug saam op skool was. Die gesprek kan basies net bestaan uit "Hallo hoe gaan dit", "Wat doen jy vir 'n lewe", Hoeveel kinders het jy", "Waar bly jy". Nadat hierdie vrae in 34.5 sekondes geantwoord is het jy niks meer sinvol om oor te praat nie en begin jy ongemaklik rondkyk vir iets sinvols om te se.
So is dit anders op die blog? Ons ken mekaar beswaarlik en tensy Karen en Christopher (goeie naam Karen) vir ons vir ure vermaak met hulle nuutgevonde liefdes sal ek graag wil sien waar na toe hierdie blog gaan. Ek is uiters positief oor die vooruitsigte, sal graag wil hoor hoe dit met almal gaan en wat julle van die lewe dink ens. Christopher, miskien moet jy die blog se inhoud kopie reg op sit, mens weet nooit watter wyshede hier kwytgeraak mag word nie en dan word iemand anders ryk uit ons gedagtes.
So julle kan sien dit is eintlik baie eenvoudig om iets te skryf sonder om iets te se, ek het sopas dit bewys met 3 paragrawe se onsin!
Groete
'n Warm gevoelente ...
Ek sal dalk genoodsaak wees om vir 'n paar dae te verdwyn ... nadat Karen nou so ydelik gepraat het van MIDDELJARIG het ek 'n paar issues om te gaan verwerk. Maar as ek nou mooi gaan dink oor die hele situasie, is dit dalk nie so verregaande nie ... miskien skort daar niks met Karen se musiek & lees smaak nie ... miskien is dit net 'n kwessie dat ons ander haar dalk net vooruit is in die aftree & rustigword fase :-) Dink hoeka al wat ek nog kort is daai pondokkie by die see met 'n rocking chair en gister se koerant.
Het eers gedag daar is nou iets vreeslik verkeerd met hierdie blogspot van ons ... waar op dees aarde kom die aap vandaan ... en waar het Ockie daai foto van my gekry ;-) Nou ja, dankie Ockie, vir 'n eye opener ... ek reken dit het ook alles te doen met die middeljare wanneer jy jouself in diere begin sien.
Nou ja, ek wil nou nie hierdie forum heeltemal op my eie oorvat nie, so laat ek maar eers ook tot groet kom ...
Tot wederom maters!
Fotos et al.
Dagsê
DAGSê aan almal met wie ek letterlik jare terug gesels het of kontak gehad het. Soms selfs 20 jaar en meer. Ek hoop regtig nie ons laat die verlede toe om die toekoms te bederf nie. Hierdie is 'n goeie geleentheid om in kontak te bly en mekaar te ondersteun en te bemoedig. Ons woon mos maar in 'n stukkende ou wêreld.
Nietemin ... Mag 2008 vir elkeen 'n genadejaar wees, waarin julle die liefdevolle hand van ons Hemelse Vader in jul lewens sal ervaar en julle elke dag bewus wees van Sy teenwoordigheid.
Groete uit Hoedspruit
Ockie Struwig (VDM)
Monday, January 7, 2008
Ek wil julle, my medeklasgenote, tog aanspoor om nie toe te laat dat Anne-Mare se tyd tot vermorsing gaan nie en julle met entoesiasme by hierdie projek aansluit. Begin asb deur julle profiele op te dateer. Ek het net deur na die 2 wat beskikbaar is te kyk besef my musiek smaak is onder verdenking. Ek gaan bietjie nadink en dit verander. En sommer ook beter boeke soek om te lees.
Ek het 'n rukkie terug besluit om aan die einde van elke jaar die jaar in oënskou te neem. Hierdie jaar het met so 'n spoed tot einde gekom dit het herhinder aan iets soos Lewis Hamilton se Japanese Grand Prix. Daar was nie eers tyd vir 'n laas ronde om die baan nie. Maar ek dink ek is bietjie teleurgesteld met myself. Ek het min van die dinge gedoen wat ek my voorgeneem het en toegelaat dat ek meegesleur geraak het in die rat race. En 'n slim ou het gesê: "If you are part of the rat race, you are a rat." En ek willie weesie.
Julle weet die wêreldwye lewensverwagting vir vrouens is 79. Dit beteken ons is amptelik middeljarig. In Desember het ek 'n kollega se troue bygewoon. Dit was vir my 'n emosionele ervaring. Ek kan ook nie meer Stille Nag sing sonder om te huil nie. Nog 'n sign. Die klok tik.
My slogun vir hierdie jaar het ek gesteel by Oom Isak: Psalm 119:37 - "Weerhou my van 'n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys." En ek dink dis basies my voorneme vir hierdie jaar. Jy is reg Christopher - knieknoppe na onder.
Mag 2008 vir julle vrede en vreugde inhou en mag die genade en liefde van God julle omvou hierdie jaar.
Friday, January 4, 2008
Ons probeer iets nuut ...
Hier kry ek toe nou 'n brainwave en probeer iets nuut om met almal kontak te hou, en nou ja ... ek hoop hierdie ding werk anders het ek nou lekker tyd gemors :-)
Ek dink 'n blog is die ideale platform om ons almal op hoogte te hou van wat aangaan (met onsself, ons maatjies of sommer net in die algemeen). As ek nou nie verkeerd is nie, kan ons tot fototjies en goeters ook hier opsit ... daardie opsie sal ek maar op 'n latere stadium "explore" ... noem my sommer Christopher Columbus hehehe
Nou ja, hier's my uitnodiging na alle Hoërskool Kathu 1987 Matrieks om so nou en dan te kom kuier en 'n geselsie aan te knoop. Sien uit daarna om julle so in die rondte te sien!
O ja ... seënwense vir 'n fantastiese 2008 en al die wonderlike dinge wat dit ons kan bring. Rig jou hoof na bo en jou knieknoppe na onder!
Blog Archive
-
▼
2008
(62)
-
►
January
(15)
- Dit moet julle sien!
- Ja Swaer ...
- Blogging? Kletswerk?
- Nog 'n vis
- Dis 20 jaar later ...
- Eerste vis aan die hoek ...
- Lyk my......
- Wat om te se
- 'n Warm gevoelente ...
- HALLO JULLE ALMAL. DIE LEWE GAAN AAN EN 2008 IS AL...
- Fotos et al.
- Dagsê
- Ha dit het gewerk. Kies "New Post" en as jy klaar...
- Eers wil ek net sê (hel het ek gesukkel om die e m...
- Ons probeer iets nuut ...
-
►
January
(15)

